Tropiese sikloon

Sikloon Catarina, 'n skaars Suid-Atlantiese tropiese sikloon op 26 Maart 2004 soos vanaf die Internasionale Ruimtestasie gesien.
Orkaan Elena op 1 September 1985 in die Golf van Meksiko. Foto: NASA
Tifoon Nabi op 3 September 2005 soos vanaf die Internasionale Ruimtestasie waargeneem

In weerkunde is 'n tropiese sikloon 'n stormstelsel wat aangedryf word deur die hitte wat vrygestel word wanneer vogtige lug styg en weer kondenseer. Die naam dui op die oorsprong in die trope en op hul sikloniese aard. Siklone draai antikloksgewys in die noordelike halfrond en kloksgewys in die suidelike halfrond. Afhangende van hulle ligging en sterkte word verskeie benamings gebruik om na die storms te verwys, soos orkaan, tifoon en tropiese storm.

  • Orkane is tropiese siklone, wat hulle oorsprong in die Atlantiese en Noordelike Stille Oseaangebied oos van die 180ste lengtegraad en in die Suidelike Stille Oseaangebied oos van 160° Oos het. Hulle gemiddelde maksimumwindspoed is meer as 64 knope.
  • Die term tifoon verwys na tropiese siklone in die noordwestelike Asiatiese gebiede van die Stille Oseaan.
  • Siklone of tropiese storms is stormstelsels in die Golf van Bengale, die suidoostelike Stille Oseaangebied en in die Indiese Oseaangebied suid van die ewenaar (Mauritius, Réunion, Madagaskar en die oostelike kusgebiede van Afrika).

Tropiese siklone kan uiters sterk winde tot gevolg hê, tornado's, stortreën en groot golwe wat kusgebiede bedreig. Die swaar reëns en storms laat reusevloede ontstaan. Vir die klassifisering van tropiese siklone word die Saffir-Simpson-skaal gebruik.

Tropiese siklone ontstaan oor die oseane van die tropiese breedtes as gevolg van die hoë temperature en konvergerende tropiese oostewinde. Dit is hewige storms met skreeuende winde, gietende reën en swaar donderweer; die reën val feitlik horisontaal vanweë die sterk wind. 'n Tropiese sikloon ontstaan gewoonlik wanneer warm, vogtige lug onstabiel raak in die omgewing waar die tropiese oostewinde mekaar oor 'n ekwatoriale oseaan ontmoet (noord van die ewenaar in Julie, suid van die ewenaar in Januarie).

Die warm lug spiraal opwaarts - saam met die wysers van die horlosie suid van die ewenaar en teen die klok noord van die ewenaar. In die middel van die spiraal, is die lugdruk die laagste, sodat die warm lug daar uitsit en afkoel. Wanneer die doupunttemperatuur bereik word en die waterdamp kondenseer, word latente kondensasie-warmte afgegee.

Dit maak die lug nog meer onstabiel, sodat die opwaartse beweging versnel word. Meer warm, vogtige lug word nou in die spiraal ingesuig, sodat die kondensasie toeneem en nog meer latente hitte vrygestel word. Die lug in die sikloonsentrum spiraal dus al hoe hewiger opwaarts. Die sikloon word deur hierdie prosesse omgeskep tot 'n magtige werwelstorm, met donker wolkmassas en stormsterk malende winde wat die see as 't ware deurmekaar roer.

Hoewel 'n tropiese sikloon in sy vroeë stadium 'n deursnee van minder as 100 km het, beweeg hy weg van sy ontstaanplek en kan hy dus dood en verwoesting oor etlike honderde kilometer saal, veral as sy pad oor kusgebiede, eilande of ander landdele gaan. Terwyl die werwelstorm voortbeweeg, kan sy deursnee tot 800 km vergroot.

Die deel waarin die maksimum-krag en vernietiging voorkom, is gelukkig beperk tot die sentrale gedeelte van die storm. Die sikloon kan voortbeweeg met 'n snelheid van ongeveer 40 km/h, maar die vernietigende winde waai met snelhede wat wissel tussen 150 en 200 km/h, terwyl windstote van tot 300 km/h nie ongewoon is nie.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search